September 6, 2010

Ek hoor graag van jou!

Filed under: Esté Geldenhuys — Esté @ 3:05 pm

Dankie vir die kommentaar Thys. Jy is so reg! Mag die LIG wat Jesus is so intens in ons land in skyn dat dit alles oopvlek ook wat die wêreld nie bedoel het, oopgevlek moet word nie. Jesus kan alle ongeregtigheid aan die lig laat kom. Mag Hy ons genadig wees!!

Esté Geldenhuys

Ons land het LIG nodig!

Filed under: Esté Geldenhuys — Esté @ 9:16 am

Onthou jy vir Jesaja 9:5? Ons lees dit altyd met kerfeestyd vir mekaar: 

Jesaja 9:5 Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—  

En dan sing ons mooi liedere en ons skep prentjies van koeie en herders en sterre wat saam met Josef en Maria fokus op ‘n kindjie in ‘n krip en dis alles werklik mooi, maar daar is soveel meer. 

Voor Jesaja 9:5 kom Jesaja 9:1, wat lees:

Die volk wat in duisternis wandel, het ‘n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ‘n lig geskyn.  

Hierdie mense wat in duisternis woon, was die mense van Galilea. Hulle het ver van Jerusalem af gewoon en kon nie gereeld offers bring en die reinigingsrituele be-oefen nie, daarom is na hulle verwys as mense wat in die duisternis woon. Wonderlik dat juis uit hierdie duister land, Die LIG gebore is – Jesus self. Dit was in Galilea se omgewing wat Hy die meeste wonderwerke gedoen het en waar Hy die meeste van Sy lering gegee het. Die LIG, Jesus, het waarlik in ‘n duister land kom skyn. 

Hy is Wonderbaar wat “miracle” beteken – wat ‘n “Miracle maker” is Hy nie.

Hy is Raadsman – Omdat Hy God is, is Hy Skepper, Hy het outoriteit oor alle mag en krag en Hy is soewerein, Hy dra kennis van die verlede maar ook die toekoms.

Hy is Sterke God of dan Gibbor! Die magtigste kryger, want Hy is ‘n Goddelike Kryger en daar is geen kryger groter as Hy nie en Hy het die vyand reeds oorwin!!

Hy is Ewige Vader – Hy het al die kwaliteite van die volmaakte Vader wat versorg en beskerm en Sy kinders wil sien ontwikkel tot hul volle potensiaal.

En Hy is Vredevors – Prince of Peace! Vrede. Wêreld vrede. Vrede in Suid Afrika. Vrede in ons dorpe en stede. Vrede in ons buurte en huis en binne in ons self! Hy is die Vors van vrede.

Dan lees vers 6 van Jesaja 9:

… tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.  

Hierdie Vredevors wil deur die vermeerdering van Sy heerskappy, vrede sonder einde bewerk. Hierdie Vors wat sit op die troon van Dawid, wil Sy heerskappy van vrede vestig deur dit met reg en geregtigheid te bevestig en te versterk. 

Kyk bietjie op en kyk om jou rond. Klink ons land nie ook soos ‘n plek van  duisternis nie? Duisternis as gevolg van korrupsie en misdaad en geestelike duisternis.  Ons land het hierdie LIG intens nodig.

Seblief. Kom ons verneder ons voor die Almagtige Vader en bid vir die reinheid van ons eie harte , sodat ons dan hierdie skrif met ywer oor Suid-Afrika kan bid. 

Bid dat:

  • Wonderbaar Self sal ingryp en dat alles wat vrot en oneerlik is aan die lig sal kom, dat Sy LIG daarop sal skyn; 
  • Raadsman die mense van ons land met Sy Goodelike raad sal bedien om by die suiwerste oplossings vir elke skeefgetrekte area te kom; 
  • Gibbor wat die ewige vyand in elke fasset reeds oorwin het, sal toetree tot Suid-Afrika se stryd teen bose magte en die geveg in die gees vir ons sal kom stry; 
  • Ewige Vader na elke mens in hierdie land sal omsien om hulle in Sy Koninkryk in te roep, hulle te versorg en te beskerm en tot volle ontwikkeling aan te moedig; 
  • Dat die Vors van vrede oor ons mooi land en sy kosbare mense sal heers! Net Hy kan dit doen!   

Jesus, wees ons genadig!!

Esté Geldenhuys

August 30, 2010

As ‘n gat jou tref … of jy die gat

Filed under: Esté Geldenhuys — Esté @ 9:50 am

Beleef jy dit ook? 

Mens ry op ons provinsiale paaie – paaie wat vir jou totaal onbekend is – en skielik is dit voor jou, ‘n yslike, diep gat met skerp rante en ‘n onmiddelike paar gat-vriende wat nader en verder om hom gerangskik is en jy is dadelik op die punt van jou sitplek terwyl jy summier spoed verminder en koes en keer … en uiteindelik as jy deur die mynveld is en dit waag om weer op te kyk, staan hy daar, mooi kiertsregop hier langs die pad – ‘n padpredikant met “potholes” plus ‘n paar uitroeptekens op hom geverf.

Weet nie hoe dit werk nie, maar hulle kom altyd te laat, hierdie padpredikante. 

En dan sit jy met bande wat seerkry, wielsporing wat uit gaan sodat jou stuurwiel skielik skeef trek … en jyself voel ontsteld, jou vrede is sommer weg en jou fokus verskuif van die mooi dinge wat jy nog flussies bedink het na ‘n “alertness”, ‘n gesoek na nóg gate in die pad – jy fokus op wat sleg is … 

Is dit nie presies soos dit met ons in die lewe ook gebeur nie? Ons gaan ‘n dag niksvermoedend en met ‘n verwagting in … tot ‘n totaal onverwagse “pothole” ons tref in iets wat skielik vernietigend skeefloop, ‘n verhouding wat net dwars draai en só seer maak, teleurstelling in jouself oor die vrot manier wat jy reageer of opgetree het, daai tong wat jy net nie kon bedwing nie, dit waarop jy gehoop het wat net nie deurkom nie, goed wat net nooit regkom nie … en dan kom ons padpredikante ook altyd net te laat. 

Voor jy jou kom kry het jy in die lewe se potholes beland wat jou wiele so pap maak, dat jy nie eers meer krag het om op te staan en wéér die masker van vrolikheid te dra nie? 

Vir hierdie “pothole – momente” het ek Ps 3:3 – of in sommige vertalings 3:4, ontdek. Op Engels lees dit so mooi – “You are the lifter of my head.”

The lifter of my head. 

The lifter of my head. 

You are the lifter of my head. 

Maak nie saak wat jou omstandighede nie, maak nie saak wat of hoe jy “voel” nie, Jesus, Jeshua, ons Messias, kan en wil Sy vinger onder jou ken sit en jou kop suutjies oplig tot jy die lewe weer gemaklik in die oë kan kyk. 

Na die mate wat jy Hom dit bewustelik toelaat en Sy teenwoordigheid by jou erken, sal Sy vrede jou vol maak en jy sal weer kans sien … vir die dag en die verhoudings en om jou eie droogmaak reg te stel en wat dit nog is wat jy moet doen om jou potholes toe te maak … Mag Hy ons dan ook beskerm teen ‘n moontlike volgende rondte. 

Maar U, HERE, is ‘n skild wat my beskut, my eer en die Een wat my hoof ophef. Ps 3:3   

Esté Geldenhuys

August 23, 2010

Hy gooi sy oorkleed af!

Filed under: Esté Geldenhuys — Esté @ 8:27 am

Lees gou hierdie paar verse uit Markus 10:

Mar 10:46-52  En hulle het in Jérigo gekom. En toe Hy en sy dissipels en ‘n aansienlike skare uit Jérigo uitgaan, sit die blinde man, Bartiméüs, die seun van Timéüs, langs die pad en bedel. En toe hy hoor dat dit Jesus die Nasaréner was, begin hy om uit te roep en te sê: Seun van Dawid, Jesus, wees my barmhartig!

En baie het hom bestraf, dat hy moet stilbly; maar hy het al harder uitgeroep: Seun van Dawid, wees my barmhartig! Toe gaan Jesus staan en sê dat hy geroep moes word; en hulle roep die blinde man en sê vir hom: Hou goeie moed, staan op! Hy roep jou. En hy gooi sy oorkleed af, staan op en kom na Jesus toe. En Jesus antwoord en sê vir hom: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En die blinde man sê vir Hom: Rabbóni, dat ek mag sien. En Jesus sê vir hom: Gaan, jou geloof het jou gered. En dadelik het hy gesien en Jesus op die pad gevolg.  

Hier is meer as een besondere boodskap in die gedeelte.

1.       In  Nuwe Testamentiese tye het mense se klere hul stand in die samelewing aangedui. Dit was veral die “oorkleed” wat mans gedra het, waaraan jy hom kon eien as ‘n Fariseër of ‘n Sadduseër of ‘n tollenaar … of ‘n bedelaar. Dis aan sy klééd wat jy ‘n bedelaar herken het as ‘n bedelaar. As jy so ‘n kleed gesien het, het jy twee dinge geweet – die man ís ‘n bedelaar, en hy mág bedel, want sonder so ‘n kleed, mag ‘n man nie gebedel het nie.

2.       Let op die omstanders se reaksie op die bedelaar wat na Jesus uitroep as die “Seun van Dawid” – ‘n benaming wat sê dat hierdie bedelaar waarskynlik beter insig gehad het in wie Jesus werklik was, as die meeste van die mense om hom. En tog, as Jesus stil staan om aan die bedelaar aandag te gee, verander die ander se houding skielik! Ok maar lekker vals nê! 

3.       En nou kom die belangrikste punt wat mens miskyk. Voor hierdie blinde man selfs opstaan – gooi hy sy kleed af!! Vir hom beteken dit dat hy van daardie oomblik af, nie meer ‘n bedelaar is nie! Want sonder daardie kleed mag hy nie meer bedel nie. Hy het letterlik sy enigste inkomste prysgegee deur die kleed af te gooi. So sterk was sy geloof dat Jesus hom sou genees, dat hy nie met die kleed van ‘n bedelaar die Messias wou nader nie. Hy het nie gekóm as bedelaar nie, maar as een wat klaar oorwin het! 

4.       Onthou ander blindes wat deur Jesus genees is – hoe dikwels Jesus goeters gedoen het voordat hulle genees is, soos die oë aan te raak, modder aan te smeer, daarop te spuug!! Maar in hierdie geval is die geloof wat Bartiméüs uitleef so groot, dat Jesus net genees met die woord: “Gaan, jou geloof het jou gered.” Is dit dalk vanweë sy geloof dat sy naam asook “die seun van …” genoem word? Hoeveel van die ander “verbygangers” se name word genoem?         

5.       Die laaste belangrike ding. Jesus vra hom: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En die blinde kan onmiddellik antwoord: Rabbóni, dat ek mag sien. 

As Jesus vandag vir jou sou vra – Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?

Sou jy so dadelik en met oortuiging kon antwoord? Weet jy wat jou grootste nood in Hom is? 

En verder, is jy bereid om die prys te betaal soos hierdie man gedoen het deur sy kleed af te gooi, sodat jy in Jesus kan ontvang wat jy van Hom begeer? 

Esté Geldenhuys

August 16, 2010

Die Gees van die Vrees van die Here

Filed under: Esté Geldenhuys — Esté @ 3:36 pm

Verlede week was die “Vrees van die Here” op my gedagte. En toe begin ek dink oor die GEES van die vrees van die Here.

Ja hoor. Dit staan in Jesaja 11:2

… en op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE. 

Hierdie profesie verwys na ons Messias. Wonderbaar om te besef dat toe Yashua, Jesus op aarde was, is ook Hy toegerus met die Ruach van JHWH, die Gees van die Here. 

En wat ‘n wonderlike lys van dinge word genoem waarmee Yashua toegerus is – wysheid, verstand, raad, sterkte, kennis en dan die vrees van die Here. 

Nou, dink bietjie oor die volgende woorde van ons Messias: 

Joh 5:19  Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so.  

As ek na hierdie skrif kyk, kom daar ‘n spesifieke woord by my op: DIENAAR. Jesus het na hierdie aarde gekom om Sy Vader te dien – tot in die dood toe. In die proses was Jesus nooit van plan om enigiets uit Homself te doen nie, Hy het wel in Getsemane bloed gesweet om Sy eie wil te kon neerlê toe Hy gevra het dat daardie spesifieke beker by Hom sou verby gaan, maar, soos Heb 5:8 lees: Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het.  

Wat het Jesus die genade gegee om hierdie gehoorsaamheid te kon lééf, anders as daardie stuk toerusting wat Hy, Yashua, van die Gees ontvang het – “die GEES van die vrees van die Here”. 

Kyk weer na wat ek verlede week op die blog geskryf het en besef, Jesus het Homself totaal neergelê voor ons Vader, nederig, afhanklik, gehoorsaam. Dis mos wat ek laas gesê het, dit beteken om die vrees van die Here te beleef – om in totale afhanklikheid te wag tot ons die hand van God sien beweeg. Met geen voorstel of plan van jou eie nie. Totaal afhanlik. 

Van ek hierdie verduideliking oor die vrees van die Here gehoor het, spartel ek. Glo my, daar is goed waarin ek dringend ‘n deurbraak begeer, maar ek “battle” om die wag-ding reg te kry. Dis toe wat Vader my na Jes 11:2 toe vat en ek besef – ek kan ook bid vir hierdie toerusting van die Gees van die vrees van die Here! 

Maar weer – ek kan nie die dinge bid om myself ‘n hupstootjie te gee in die rigting waarin ék graag wil gaan nie!! Kyk hoe lees Jes 11 se volgende paar verse: 

Jes 11:3-6  En Hy (Jesus) het ‘n welgevalle aan die vrees van die HERE; en Hy sal nie regspreek na wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie; maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak. En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees. Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja. 

Deur Jesus se gehoorsaamheid aan die Gees van die vrees van die Here, kom versorging, teregwysing en geregtigheid wat die wonder tot gevolg het van vrede wat slegs moontlik is waar ons Vader in geregtigheid regeer.  

Kry na die groter prentjie – al hierdie dinge – gaan oor die groter prentjie. Ons Vader het ‘n plan vir alles, Hy het ‘n doel met alles en ons is instrumente in Sy hand wat Hy baie graag wil gebruik. Ons kan nie ons eie koppe volg en doen wat ons wil nie. Ons moet leer wat dit vra om dienaars te wees wat weet dat Hy groot en ons klein is, en dat Hy eenvoudig álles kan. Na die mate wat ons leer om in die vrees van die Here op Hom te wag tot ons Sy hand sien beweeg, sal ons geloof in Hom versterk word en ons getuienis sal ons en ander om ons bemoedig om meer, dieper, in steeds groter erns, ons vertroue in Hom te plaas – binne die begrip van die VREES van die HERE. 

Vader!! Seën ons asseblief met U Gees van die vrees van die Here! 

Esté Geldenhuys

Older Posts »

Powered by WordPress