Uiteindelik het ons alle hoop laat vaar om gered te word. … Maar selfs in hierdie omstandighede vra ek julle: Hou moed! (Handelinge 27: 20-22).
Om moed te hou beteken:
- Om ten spyte van die negatiewe dinge wat jy beleef steeds glo dat daar hoop is
- Wanneer geen ander saak wat meer hoop kan gee as die betroubare Woord van God nie
- Om die Woord te ken omdat Hy sy beloftes deur die Woord aan ons gee
1. MENSLIKE BEREKENINGS LOOP DEURMEKAAR
Paulus het hom op die keiser beroep en moes as gevangene na Rome geneem word. Hy en ‘n paar gevangenes word op ‘n skip geplaas en die lang seereis word begin. Daar is vertragings, omdat die skip van die regte winde afhanklik is. Toe die seisoen begin draai het en die gevaar van stormweer in die winter groot geword het, moes hulle besluit om iewers te oorwinter.
2. GODDELIKE BELOFTES GEE HOOP
Die Here het Paulus verseker dat hy veilig in Rome sou aankom. Ten spyte van die stormweer en hulpeloosheid van die skip op die see het Paulus geglo. As mense se berekenings nie meer hoop gee nie, is die vaste beloftes van God steeds waar. Om moed te hou beteken dat ‘n mens ten spyte van die negatiewe dinge wat jy beleef, steeds glo dat daar hoop is. Dit is om te midde van die stormwinde en brekende golwe steeds te glo dat jy lewendig jou bestemming sal bereik. Mense wat moed hou is mense wat nog dinge doen. Die moedelose persoon trek hom egter terug, kla net, is nie bereid om iets te probeer nie. Dis die moedelose persoon wat ‘n hele groep mense, ‘n gemeente, ‘n skool, ‘n volk negatief kan beïnvloed. Daarteenoor is dit die een wat hoop het wat ook ander mense moed inpraat, motiveer en inspireer.
Hoe tree jy op, – in hierdie baie moeilike tye van ons eie geskiedenis in Suid Afrika?????
Gee jou optrede hoop omdat jy moed hou, of sleep jy met jou negatiewe woorde en dade mense die afgrond in?
Weet jy? Jy kan moed hou en positief optree. Dis nie nodig om moedeloos te word nie.
Waarom?
- Omdat jy meer behoort te weet as die ongelowige
- meer insig het as die persoon wat ver van God leef
- omdat jy jou lewenspad saam met God loop.
Jou ore moet gespits wees vir die stem van God, jou oë moet gerig wees op die einde wat Hy vir jou bestem het. Dan sal jy ook wanneer die lewensgolwe oor jou slaan kan moed hou.
3. MENSLIKE BEREKENINGS LOOP DEURMEKAAR
Een van die redes waarom mense dikwels moedeloos raak, is omdat die planne wat ons maak dikwels nie uitwerk nie.UITEINDELIK HET HULLE ALLE HOOP LAAT VAAR OM GERED TE WORD!
276 benoude hulpelose mense vasgevang op ‘n hout seilskip. Geen hoop op uitkoms nie, net stormsee, golwe wat die boot vol water slaan, net op hulle sintuie en seevaart ervaring ingestel.
4. GODDELIKE BELOFTES GEE HOOP
Die menslike berekenings van winde en beskutte hawens het nie uitgewerk nie. Waarheen nou? Is daar enige hoop? Wat kan weer moed gee? 1. Die omstandighede is so duidelik negatief 2. dat dit net ‘n dwaas sou wees wat moed het. 3. Die ander het hulle al begin gereed kry vir die ergste.
Tog was Paulus nie deel van die moedverlore groep nie. Hy neem die leiding in die stormweer en uitsigloosheid. As die mens se planne op hopeloosheid uitloop, ken Paulus die God in wie se diens hy gestaan het en ter wille van wie se evangelie hy ‘n gevangene was. Ons lees: Nadat hulle ‘n lang tyd nie meer geëet het nie, het Paulus tussen hulle gaan staan en gesê: “Manne, julle moes na my geluister het en nie van Kreta af weggevaar het nie. Dan sou ons hierdie ramp en skade vrygespring het.” (Handelinge 27:21).
5. VERTROU VANDAG OP GOD SE BELOFTES
‘n Paar dinge in hierdie aangrypende verhaal maak God se getrouheid aan ons bekend.
Die voorbeeld van sy dade gee vir elke kind van God hoop – waar en wanneer hulle ook al in moedeloosheid verval. Maar God toon ook aan ons sy genade om Paulus te versterk in sy geloof sodat hy – teen alle normale gebruike in – as gevangene die leiding op die skip neem. Sy geloof, sy bereidheid om sy geloof voor almal te bely en sy moedige optrede was ‘n kragtige getuienis op ‘n tydstip toe alle hoop laat vaar is.
God moedig ons in hierdie geskiedenis aan om op Hom te vertrou, ook wanneer almal rondom ons handdoek ingooi.
Die moeilike situasies waarin ons in ons lewe beland sak soms soos ‘n skielike storm op ons toe. Die een dag is dit ‘n sagte seebries, maar dit kan in ‘n oomblik in stormweer ontaard. Hoe lank dit aanhou weet ons nie, waarheen dit ons neem kan ons nie bepaal nie. Ons kan as mense die beste maak wat ons kan, maar dikwels kan dit aan die nood niks verander nie.
God moedig ons aan om nie moed op te gee as dit lyk of alles daarmee heen is nie.
Sy Woord is die kompas vir die lewe. Al verskyn daar nie ‘n engel aan jou om jou van God se bystand te verseker nie, het ons die betroubare Woord van God. Daaruit weet ons dat – soos vir Paulus – God self met ons is. Hy lei ons op ‘n koers waarlangs ons ons bestemming sal bereik. Sonder om die besonderhede daarvan aan ons bekend te maak weet ons dat ons in sy hande veilig is.
Waarheen gaan ek dan as die storms van die lewe my heen en weer begin gooi? Waar kry ek moed vir môre as die son vandag nie skyn nie?
Nie in die planne wat mense kan maak nie, maar in die vaste beloftes van God. Daar is dus een verantwoordelikheid wat ons nie moet nalaat nie. Dit is om onsself voortdurend aan God se beloftes te herinner. Nie om ander mense daaroor te hoor praat nie. Ons moet self met die onfeilbare Woord van God besig bly. Oordink dit, leef daarvolgens, beleef hoe die beloftes van God waar word in jou lewe, dan sal jy ook soos Paulus kan opstaan as almal alle hoop wil laat vaar en uit jou hart uit kan sê:
“Hou moed, mense! Ek vertrou op God dat alles net so sal gebeur soos Hy vir my gesê het! Ja, ek ken Hom uit ervaring”.
Jou geloof en jou optrede as kind van God moet ander mense moed gee.
Johann Els