February 22, 2010

HOE GEMAAK MET BEKOMMERNIS?

Filed under: Johann Els — Johann @ 2:55 pm

Matt 6:25 (– 34)

“Daarom sê Ek vir julle, hou op om julle te be­kom­mer oor julle daaglikse lewe.”

Jesus gee duidelike voorskrifte oor hoe om te werk te gaan met bekommernis oor dinge wat God tog sal voorsien,  waarskynlik omdat Hy weet watter negatiewe uitwerking dit op ons as mense het.

Hoeveel van die slegte gevolge van bekommernis beleef jy?

1.  Dit affekteer jou fisies.  Dit beroof jou van slaap en sommige mense eet sleg,  of ooreet hulle.  Elkeen het ‘n negatiewe uitwerking op jou en benadeel jou vermoë om te funksioneer soos wat God dit bedoel het.

2.  Dit maak dat die ding waaroor jy jou bekommer jou hele gedagtewêreld beheer. Dit bring dus spanning wat allerhande slegte gevolge vir jou gesondheid het.  Jy verloor jou fokus op die doel van jou lewe.

3.  Dit ontwrig jou werkvermoë (produktiwiteit).  Hieroor hoef ek nie veel te sê nie.  Kyk maar hoeveelkeer betrap jy jouself dat jy in jou gedagtes ver wegdwaal terwyl jou werk stilstaan.

4.  Jou gedrag teenoor ander word beïnvloed.  ‘n Mens raak maklik nors en kortaf en stoot mense daardeur van jou weg.

Jy word dan maklik eenkant toe gestoot en vereensaam.

5. Dit verminder jou vermoë om op God te vertrou.  Dit blus juis die Heilige Gees uit, dié Eén wat in sulke tye vir jou wil bekragtig en saam met jou wil bid vir oplossings (Hand 1:8; Rom 8:26). Satan smokkel in sulke tye met jou gedagtes (2 Kor 10:5) en immobiliseer jou uiteindelik heeltemal.  Daarom moet jy opstaan teen hom en in die krag van die Heilige Gees en in die Naam van Jesus  hom weerstaan (Jak 4:7),  sodat hy kan wegvlug.

Wat is die verskil tussen bekommer en besorg wees?  Bekommernis verlam (immobiliseer) jou,  terwyl besorgheid jou motiveer om iets aan die saak te doen. Jesus sê in Matt 6:33 wat ons moet doen.  Dit beteken dat jy in die eerste plek na Hom moet draai vir hulp, jou gedagtes met sy begeertes vul,  om sy karakter joune te maak (vrug van die Heilige Gees – Gal 5:22-23),  en om Hom te dien en te gehoorsaam in alles.  Wat is regtig belangrik vir jou?  Mense,  dinge,  doelwitte en ander begeertes ding almal mee vir die eerste plek.  Enigeen van hulle kan vinnig vir God uit die eerste plek uit stamp,  indien jy nie aktief kies om Hom die eerste posisie in elke faset van jou lewe te gee nie. Om vir môre te beplan is tyd wat goed gebruik is,  maar om oor môre te bekommer is tyd wat gemors is.  Soms is dit moeilik om te onderskeiNoukeurige beplanning is om vooruit te dink oor doelwitte, stappe en programme en om God te vertrou vir sy leiding.

Wanneer dit goed gedoen is,  beperk dit bekommernisse.  Die mens wat hom/haar be- kommer –  word verteer deur vrees en vind dit moeilik om God te vertrou.  Hy laat sy planne inmeng met sy verhouding met die Here.  Moenie dat bekommernisse oor môre jou verhouding met God vandag,  benadeel nie.

Johann Els

16 Comments »

  1. Ds Johann, baie dankie vir die praktiese raad. Ek is tans besig om n pad te loop met n dame wat deur baie dinge uit haar verlede
    worstel, bekommernis en sy sukkel met vergifnis.Hierdie is n stukkie kosbaarheid om mekaar te help na oorwinning in Christus.
    Baie dankie vir die manier waarop u bedien sodat ons reisgenote kan wees en daagliks moed skep. Mag die Here u werk ryklik seen.

    Comment by Elmarie du Toit — February 23, 2010 @ 7:48 am

  2. Ag Johann
    Baie dankie dat jy gehoorsaam is aan die Here en hierdie wonderlike Woord uit god se mond met ons deel.
    Net wat on nodig het om oor te mediteer en aan die hart vas te maak.

    Jesus seen

    Comment by joyce — February 23, 2010 @ 8:22 am

  3. Ds. Johan Dit is waar ons bekommer ons oor dinge wat ons regtig niks aan kan doen nie.Ons kan net se dankie dat Die Here by ons is al het ons nie die antwoorde nie
    Goed gaan (stay blessed)
    Cheryl

    Comment by Cheryl Richards — February 24, 2010 @ 4:35 pm

  4. More Johan,

    Ek het die voorreg om elke more deel te kan he aan God se almagtigheid, het sy dit in my stilte tyd of gedurende die dag wanneer ek Radio kansel luister. Ek wil vadag getuig oor die boodskap wat ek van buite ontvang,hetsy by die kerk of dan oor die radio. Daar is soveel geweld en sonde in hierdie tyd, dit voel net deesdae of ons geestelike groei beperk word deur wat ons van die kansel hoor en dan ook oor die radio. Soveel negatiewe aspekte en waarskuwings. Waar is al die goeie dinge wat op daaglikse vlak gebeur. Dit is tyd dat ons fokus op wat GOD regkry in ons samelewing, om oor die goeie te berig is nie verkeerd nie. As ‘n hond aanhou om geslaan te word sal hy naderhand byt. Kan ons nie maar ons mense meer bemoedig deur die goeie wat plaasvind elke dag en eerder daarmee ons volk bedien nie. Elke kind van God besef die erns van wat buite oplaasvind en smag daarna om ook van die goeie bewus te wees.!! God seen!! Amen!

    Comment by Danie Wessels — February 25, 2010 @ 7:23 am

  5. Ek stem saam met Danie Wessels. Positiewe getuienisse en beriggewing daaroor – wat God doen in mense se lewens (soos die berigte oor Hettie en Louis Brits se getuienisse na die roof en verkragting)- BOU en INSPIREER jou geloofslewe! Dit fokus jou op God se Almag en liefde en nie op die negatiewe gebeurtenis.

    Comment by Sandra Stoker — February 25, 2010 @ 9:35 am

  6. Johann
    Daar is twee dae in ons lewens waaroor ons ons glad nie behoort te bekommer nie. Die een is gister wat verby is met al sy hoogtepunte en foute. Ons kan daardeur leer maar om daaroor te bekommer gaan ons niks baat nie en ons kan daaraan ook niks verander nie. Die ander een is more. Totdat more deur die genade van Jesus aan ons geskenk is kan ons niks daaraan doen nie. Ja ons kan daarvoor beplan maar om daaroor te bekommer gaan niks aan die ssak verander nie. Dit laat ons slegs met vandag. Vandag is aan ons geskenk deur ons almagtige Koning en dit is al wat ons huidiglik het. Kom ons leef vandag voluit asof dit ons laaste dag is en waarin ons ‘n verskil kan maak. Die Here seën

    Comment by Johann Lewis — March 1, 2010 @ 11:50 am

  7. Ja Ds. Johann ons vergeet so maklik wie ons is in Jesus en skrik vir die “opblaaspoppe” wat die duiwel oor ons laat troon om vrees te wek! Dankie vir jou fyn humorsin en blymoedigheid! Ek geniet Dagbreek elke more en dit gee my woema vir my werksdag!
    Liefde in Jesus,
    Valerie

    Comment by Valerie Rautenbach — March 1, 2010 @ 2:10 pm

  8. Ja Ds. Johann, ons vergeet so maklik wie ons in Jesus is! Hy troon oor ons met sy reuse opblaaspoppe en boesem vrees in by baie wat nie weet dat een prikkie met die Swaard van die Gees die poppe in die niet laat verdwyn nie! Baie dankie vir u blymoedigheid en fyn humor op Dagbreek! Ek luister elke oggend voor werk daarna en dit gee my woema vir my dag! Liefde in Jesus,
    Valerie

    Comment by Valerie Rautenbach — March 1, 2010 @ 2:14 pm

  9. Hi Johan
    Ons identiteit word bepaal deur wie of wat ons mee assosieer. Om te kan staande bly moet ons in Jesus Christus wees anders is ons in diep moeilikheid en dan gee ons bekomernis n stok om ons mee te slaan.As os glo dat Jesus vir ons probleme en bekomernisse gesterf het gee dit ons hoop om aan te gaan met die lewe.Fokus op Hom hou jou oe gevestig op Jesus en jy sal jou bekomernis oorwin.
    Andre

    Comment by Andre Schoonbee — March 1, 2010 @ 3:40 pm

  10. Hi Ds. Johan

    Baie dankie vir hierdie stukie. Ek het die afgelope tyd my so bekomer oor dinge, en dit het n negatiewe uitwerking op my ,nie net geestlik maar fisies, gahad. Ek is so 3 dae terug gediagnoseer met Bell’s Palsy, dit is die verlaming van een kant van my gesig. En al weet dokters nie wat dit presies varoorsaak nie, word daar verneem dat stres n oorsaak kan wees.So my bekommernisse het my nie net geestlik maar ook fisies verlam.Nadat ek die gedeelte gelees het ek net besef hoe baie ek my bekomer oor dinge wat nie in my hande is nie.Ek weet dat al my bekomernisse deur Jesus weg geneem kan word, ons moet Hom net toelaat.
    Ek wil vrae dat Ds. asb. vir my sal bid, ek probeer so hard om net my bekomernisse vir Jesus te gee, en voor ek my weer kan kry ’stres’ ek al weer onodig.
    Baie dankie vir die gedeelte

    Groete in Jesus

    Comment by Eben Pieterse — March 2, 2010 @ 11:27 am

  11. Duisend dankies vir ‘n puik program op Radio TV & Internet.
    Hierdie is nie net soeke na sinvolheid.
    Die werk wat julle doen is kos vir liggaam, siel en gees.
    Seeninge & Voorspoed

    Comment by Annette Viljoen — March 2, 2010 @ 2:18 pm

  12. Hi Boetie Eben – Satan het gekom om te moor steel en verwoes MAAR JESUS CHRISTUS van Nasaret hét gekom sodat ons LEWE kan hê! LEWE IN OORVLOED!! Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke bose mag in die lug MAAR GOD hét vir ons die WAPENS van Ef 6 gegee! Dit is DAAR! Ons moet dit net gebruik!! Die Woord sê dat ons ons moet ONDERWERP aan GOD en die Satan TEENSTAAN en hy SAL van ons wegvlug! GEE OOR!! LET GO LET GOD!! En wees verséker dat ons vir jou sal intree en jou opdra aan ons Vader GOD, die Verhoorder van gebede! Die gebed van ‘n regverdige het gróót KRAG! Mag Vader GOD se GUNS en seën jou omvou!
    Groetnis in Christus – Hancke

    Comment by Hancke — March 2, 2010 @ 4:41 pm

  13. Ds Johan

    Baie dankie vir die besondere gedagte!!! Ek kan getuig as jy werklik aan Jesus behoort kan jy al die bekommernisse hanteer sonder om te bekommer!!!

    Comment by Katrien van Heerden — March 3, 2010 @ 2:22 pm

  14. Hierdie boodskap was vir my ook bedoel. Alles wat Ds. Johan hier skryf, ervaar ek op die oomblik. My verhouding met God sal nou eerste wees en nie my bekommernisse nie.

    Comment by Karen — March 4, 2010 @ 2:53 pm

  15. Ds. Johan. Dankie vir die bemoediging uit Sy Woord. Bekommernis vorm deel van my lewe a.g.v verskeie dinge. My opkomende skeisaak, die werk (polisie) en om van dinge soos finansies nie eens te praat nie. Maar ek dank God nog elke dag vir Sy genade, raad en bemoediging. Hy is voorwaar die rots in my lewe, geslaan om vir ons almal die Lewende Water te gee. Ek skat ek het weereens net nodig gehad om hierdie woorde uit Sy Woord te hoor. Satan was alweer besig om my van Hom af te laat dryf. Soms maak die bekommernisse in my lewe my blind en doof vir Hom en dis in daai tye wat ek vergeet om op te kyk, want ek sien net dit wat voor my is en nie bo my nie. Bekommernisse laat my vrees vir môre, en vergeet van vandag. Dankie Ds. Johan.

    Comment by Herman — March 6, 2010 @ 7:49 am

  16. Eben,

    Ek is so jammer dat ek nou eers jou boodskappie lees. Ek het goeie nuus vir jou my broer.

    Die Here KAN jou genees, indien jy jou sondes belei indien jy HOM ALLEEN as jou Saligmaker aanneem.

    Onthou vrees is van satan af, nie van die Here nie. Moenie vir satan meer gee as die liefde en vrede wat jy van Jesus ontvang nie. Wees meer positief, spreek positiewe dinge uit oor jouself en glo dat jy gesond sal word.

    Ek weet dit is ‘n vreeslike skok vir jou liggaam en vir jou as persoon, om gediagnoseer te word, MAAR daar IS genesing deur gebed en geloof.

    Ek bid vir jou en ek glo dat die Here jou sal genees op Sy tyd!

    Vriendlike groete
    Anita

    Comment by Anita de Jager — April 14, 2010 @ 9:05 am

RSS feed for comments on this post. TrackBack URL

Leave a comment

Powered by WordPress