February 1, 2010

Onse Vader

Filed under: Wynand Rossouw — Wynand @ 1:40 pm

Na aanleiding van ‘n Dagbreek program wat ek aangebied het was daar geweldig baie reaksie op die Onse Vader gebed wat ek behandel het en die feit dat hierdie gebed deur Yeshua (Jesus) self aan Sy dissipels en volgelinge geleer is as die gebedsmodel. Daarom glo ek dat dit nog vandag steeds van toepassing is op ons lewens as Sy volgelinge.

Hou Lukas 11 in gedagte waar Sy dissipels dan vra, “leer ons bid” en Yeshua (Jesus) dit goeddink om hierdie gebed uit die Hart van die Vader oor te dra aan Sy kinders.

Mattheus 6:5 is nog ‘n riglyn en ‘n aanwysing vir voornemende bidders, maar dan dié paar gedagtes  oor die “Onse Vader” wat die navrae tot gevolg gehad het.

  • Ek kan nie sê ‘Onse’ as ek en jy net vir onsself lewe en na onsself omsien in hierdie wêreld nie.
  • Ek kan nie bid ‘VADER’ as John 3:3 nog nie waar geword het in my lewe en ek nog nie Sy kind geword het nie.(sien ook Mark 16:16)
  • Ek kan nie bid ‘WAT IN DIE HEMEL IS’ as ek nog aardsgebonde is en aan aardse goed en goedere vasklou nie. (Kolossense 3:2)
  • Ek kan nie bid ‘LAAT U NAAM GEHEILIG WORD’ as ek dit ydelik gebruik of toelaat dat dit geblasfimeer word sonder dat ek ‘n vinger verroer nie. (Exodus 20:7)
  • Ek kan nie bid ‘LAAT U KONINKRYK KOM’ as ek nie op ‘n manier bydrae tot sendingwerk, dit nie finansieel ondersteun, of daarteen gekant is nie.
  • Ek kan nie bid ‘LAAT U WIL GESKIED’ as ek altyd my eie sin wil hê en my wil af dwing op ander rondom my. Alles omtrent God gaan oor gee, maar ek en jy vat net?
  • Ek kan nie bid ‘MY DAAGLIKSE BROOD’ as ek spandabelrig lewe en my geld verkwis sonder beplanning en die dag van more. (Maleagi 3:10) .
  • Ek kan nie bid ‘VERGEEF ONS ONS SKULDE’ as my hart nie gebroke is oor my sonde en dwalinge teenoor God nie. (Kolossense 3:13)
  • Ek kan nie bid ‘SOOS ONS ONS SKULDENAARS VERGEWE’ as ek met ‘n wrok in my hart rondloop teenoor iemand, selfs my gesinslede of familie of iemand by die werk.
  • Ek kan nie bid ‘EN LEI ONS NIE IN VERSOEKING’ as ek met sonde speel bv, pornografie, tydskrifte , buite eglike vehoudings….sonde is legio, waak daarteen.(1 Petr 5:8)
  • Ek kan nie bid ‘AAN U BEHOORT DIE KONINKRYK’ as ek nie bereid is om ‘n dienskneg, dissipel, dienaar van Jesus (Yeshua)) en SY koninkryk te wees nie.
  • Ek kan nie bid ‘EN DIE KRAG’ as ek met vrees in my hart rondloop nie. (2 Tim 1:7) .
  • Ek kan nie bid ‘EN DIE HEERLIKHEID’ as die eie ek nog my eie lewe wil regeer nie.
  • Ek kan nie bid ‘TOT IN EWIGHEID’ as ek nie daagliks op Sy koms  uitsien met ‘n Maranatha verwagting nie.
  • EN…ek kan nie ‘AMEN’ sê as ek nie al bogenoemde  kinderlik glo en leef nie.

Die Woord daag ons uit om onsself daagliks te ondersoek (2Kor 13:5). Hoe vaar ek en jy as ons ag slaan op net hierdie gebed wat Jesus (Yeshua) ons bykans 2000 jaar gelede geleer het?

Shalom

Wynand Rossouw

9 Comments »

  1. baie dankie, Wynand. dit was moontlik om afskrif te maak van die Gebed, nou kan ek dit aangee vir mense wat nie internet/blog het nie
    Seenwense

    Comment by Alicia — February 1, 2010 @ 3:30 pm

  2. Wynand, baie dankie vir die kosbare wyse wat jy dit vir ons oopbreek, dis werklik ‘n ‘eye opener’..! Blessings

    Comment by Bets — February 4, 2010 @ 8:32 am

  3. Wynand, jou boodskap dwing my tot selfondersoek en laat my besef om Jesus te volg is harde werk en alles is nie noodwendig ok, soos ons graag elke dag wil glo,as jy blind is vir die waarheid nie. Vrede

    Comment by Dewald — February 4, 2010 @ 3:38 pm

  4. Ek dink nie die debat oor “evolusie” (van vis tot filosoof) oortuig nie. Teistiese evolusie oortuig ook nie. (poging om God by evolusie te betrek) Daar is nie wetenskaplike bewyse vir evolusie nie. Daar is wel vir natuurlike seleksie binne die grense van die verskillende soorte wat geskep is. Klein honde, groot honde, harige honde, ens. MAAR NIE aap tot mens nie.

    Interessant. Die lewendige Selekant wat in 1937 by Madagaskar gevang is lyk dan kompleet soos die fossiel eweknie wat kwansuis miljoene jare oud is. Waar is die evolusie? Die eenvoudigste bakterie het 238 komponente wat gelyktydig moet werk om te funksioneer. (ons noem dit irreducable complexity) Kon nie deur evolusie meer kompleks geword nie. Daar is nog derduisend argumente. Kontak gerus Creation Ministries International. Uitstekende Christen Wetenskaplikes behoort aan die organisasie wat goed onderle is in die debat.

    Comment by Noel — February 4, 2010 @ 5:47 pm

  5. Sjoe Wynand, dis treffend en dit laat ‘n mens bietjie nadink. Ons is as kinders die “Onse Vader” soos ‘n rympie ingedril. wat help dit jy kan dit op se soos ‘n rympie, maar geen woord het werklik betekenis nie. Dankie Wynand… na 30 jaar kan die rympie betekenis kry vir my.

    Comment by Maggie — February 4, 2010 @ 9:44 pm

  6. ONSE VADER Adrio König

    Ons Vader wat in die hemel is,
    dankie dat U nie net daarbo is nie,
    maar ook hier by ons in al ons nood en seer.
    Dankie dat U ons soos ‘n vader beskerm en soos ‘n moeder versorg.

    Laat u Naam geheilig word deur ons vandag,
    dat ons so sal optree dat mense U in ons sal herken
    en ter wille van ons lewe aan U eer sal gee.

    Laat u koninkryk kom.
    Breek vandag die mag van die bose,
    bevry ons van die mag van die sonde, en van ons eie selfsug,
    en help ons om so te lewe dat u heerskappy teen vanaand
    deur meer mense erken en eerbiedig sal word.

    Laat u wil geskied.
    Al is dit anders as wat ons dit graag sou wou hê.
    Here, ons huiwer om dit te sê, maar stel ons asseblief teleur
    as ons begeertes nie met u wil ooreenkom nie.
    `En maak ons dan gewillig om u wil te doen.

    Gee ons vandag ons daaglikse brood,
    Want ons is elke dag in alles van U afhanklik.
    Wanneer ons in nood is, besef ons dit meer as ander kere,
    Maar sonder U kan ons nooit regtig regkom nie.
    En al sou ons ook genoeg geld in die bank hê,
    Kan dit nog nie ons gesondheid en geluk koop nie.

    En vergeef ons ons oortredings wat vir ons maar klein lyk,
    Maar in die lig van die prys wat dit U gekos het, is dit verskriklik groot,
    So groot dat ons maklik dié mense kan vergewe
    wat teen ons gesondig het.

    En laat ons nie in versoeking kom nie.
    Omdat die duiwel vir ons te sterk is en ons nooit
    sy lis kan weerstaan as U ons nie beskerm nie.

    Daarom bid ons: Verlos ons van die Bose,
    Ook waar hy op fyn vervormde maniere
    ons wil verlei om ‘onskuldige sondetjies’ te doen.
    Soos om goed te vat (klein en groot) wat nie aan ons behoort nie,
    En “wit leuentjies” te vertel.

    Aan U behoort die koninkryk en die krag
    En die heerlikheid tot in ewigheid
    U is die Here, U het alles gemaak, daarom het U reg op alles.
    Laat alles wat asemhaal, U prys.
    Alle lof moet aan U gebring word.
    U is groot en goed en getrou.
    Niks en niemand kan met U vergelyk word nie.
    Wonderlike God, genadige Vader, getroue Vriend.

    AMEN

    Comment by Hancke — February 5, 2010 @ 8:51 am

  7. Wynand,ekt gehoop om te hoor hoe jy uitbrei in die gebed oor betekenis van woorde, soos laat U koninkryk(vrede,ens)kom, (my koninkryk gaan,beskrywing van teksverse daarby.Ek EET die Woord,en kan nie wag om Konkordansie te kry nie.Ons Vader is groot.En Hy het Hom oor my ontferm! My beker loop oor.

    Comment by Hester — February 5, 2010 @ 3:35 pm

  8. Hi Wynand – ek weet nie of hierdie die plek is om so-iets te doen nie. Indien nie laat weet my asseblief hoe ek jou met sulke nuus kan bereik. Weet nie of jy my epos met nog weergawes van die Onse Vader ontvang het nie, daarom probeer ek nou maar die blog.
    Rosina Gordon van Pacaltsdorp se passie vir JESUS CHRISTUS het my HART aangegryp. Op 25 Januarie het ek haar nommer by Radiokansel gekry en sedertdien het ons gereeld kontak en bid ons, 800km van mekaar, saam, want ek woon in Bloemfontein.
    Ek wou vir haar CD’s stuur om na te luister, maar, soos sy kostelik sê ‘my typiekie’ het gebreek.
    My sus Ina en skoonsus Estelle woon in George en ek het hulle op 28 Jan gesms om te hoor of ons nie kan saamstaan om vir Rosina ‘n DVD-speler te koop nie. Ek het gedink dis ‘n goeie roep, want daarmee kan sy CD’s, MP3’s asook DVD’s (wat ons vir haar sal stuur) speel. Estelle was ‘in’ maar my sus kon nie help. Estelle sou die Maandag bel vir DVD-speler pryse.
    Saterdag kry ek besoek van Hilde van oorkant die straat. Ek vertel haar opgewonde van my nuutgevonde JESUS-SUSSIE Rosina, en my woorde aan haar was: “Hilda, ek kan nie rérig ‘n bydrae maak vir Rosina se DVD-speler nie, maar hoor nou wat ek vir jou sê : Rosina Gordon van Pacaltsdorp GAAN ‘n DVD-speler kry, wanneer, van waar of hoe sal ek nou nie weet nie, al wat ek verséker WEET is dat sy wel een GAAN kry!”
    Laatmiddag Saterdag bel Ina uit George en sê sy het nie geld vir ‘n DVD-speler nie MAAR sy het ‘n HELE sentrum met radio en als wat Rosina kan kry!
    Lang storie, (vol BLYDSKAP en DANKBAARHEID) kort. Rosina hét reeds haar ’sentrumpie’!

    Alle eer aan ons wonderlike HERE JESUS CHRISTUS van Nasaret, beantwoorder van opregte gebede en voorsiener van behoeftes.
    Laat weet nou asseblief of ek maar die blog mag gebruik om getuienis te deel.
    Groete in Christus – Hancke

    Comment by Hancke — February 8, 2010 @ 7:38 am

  9. Ek kan net getuig van die krag van gebed. Ek het dit nou al vele kere in my lewe ervaar, of dit nou ‘n klein gebetjie is vir n robot wat vir weke buite werking is en die verkeer opeenhoop, of ‘n lewensveranderende gebed.

    Ek het my lewe vir die Here gegee omtent agt jaar terug, na my laaste selfmoord poging. Die man met wie ek tans getroud is, en ons het ‘n pragtige dogterjie van 5, dien nie die Here soos ek nie, alhoewel sy ma ‘n groot Christen is. Maar ek sal nie moed opgegee nie want God is groot en gebed kan sake verander.

    Ek prys die Here en dank Hom vir Radio Kansel se omroepers wat elke oggend 6uur met my gesels as ek werk toe ry.

    Dankie

    Stephne Kruger (Roodepoort)

    Comment by Stephne Kruger — March 5, 2010 @ 1:27 pm

RSS feed for comments on this post. TrackBack URL

Leave a comment

Powered by WordPress