Verlede week was die “Vrees van die Here” op my gedagte. En toe begin ek dink oor die GEES van die vrees van die Here.
Ja hoor. Dit staan in Jesaja 11:2
… en op Hom sal die Gees van die HERE rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die HERE.
Hierdie profesie verwys na ons Messias. Wonderbaar om te besef dat toe Yashua, Jesus op aarde was, is ook Hy toegerus met die Ruach van JHWH, die Gees van die Here.
En wat ‘n wonderlike lys van dinge word genoem waarmee Yashua toegerus is – wysheid, verstand, raad, sterkte, kennis en dan die vrees van die Here.
Nou, dink bietjie oor die volgende woorde van ons Messias:
Joh 5:19 Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so.
As ek na hierdie skrif kyk, kom daar ‘n spesifieke woord by my op: DIENAAR. Jesus het na hierdie aarde gekom om Sy Vader te dien – tot in die dood toe. In die proses was Jesus nooit van plan om enigiets uit Homself te doen nie, Hy het wel in Getsemane bloed gesweet om Sy eie wil te kon neerlê toe Hy gevra het dat daardie spesifieke beker by Hom sou verby gaan, maar, soos Heb 5:8 lees: Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het.
Wat het Jesus die genade gegee om hierdie gehoorsaamheid te kon lééf, anders as daardie stuk toerusting wat Hy, Yashua, van die Gees ontvang het – “die GEES van die vrees van die Here”.
Kyk weer na wat ek verlede week op die blog geskryf het en besef, Jesus het Homself totaal neergelê voor ons Vader, nederig, afhanklik, gehoorsaam. Dis mos wat ek laas gesê het, dit beteken om die vrees van die Here te beleef – om in totale afhanklikheid te wag tot ons die hand van God sien beweeg. Met geen voorstel of plan van jou eie nie. Totaal afhanlik.
Van ek hierdie verduideliking oor die vrees van die Here gehoor het, spartel ek. Glo my, daar is goed waarin ek dringend ‘n deurbraak begeer, maar ek “battle” om die wag-ding reg te kry. Dis toe wat Vader my na Jes 11:2 toe vat en ek besef – ek kan ook bid vir hierdie toerusting van die Gees van die vrees van die Here!
Maar weer – ek kan nie die dinge bid om myself ‘n hupstootjie te gee in die rigting waarin ék graag wil gaan nie!! Kyk hoe lees Jes 11 se volgende paar verse:
Jes 11:3-6 En Hy (Jesus) het ‘n welgevalle aan die vrees van die HERE; en Hy sal nie regspreek na wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie; maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak. En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees. Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja.
Deur Jesus se gehoorsaamheid aan die Gees van die vrees van die Here, kom versorging, teregwysing en geregtigheid wat die wonder tot gevolg het van vrede wat slegs moontlik is waar ons Vader in geregtigheid regeer.
Kry na die groter prentjie – al hierdie dinge – gaan oor die groter prentjie. Ons Vader het ‘n plan vir alles, Hy het ‘n doel met alles en ons is instrumente in Sy hand wat Hy baie graag wil gebruik. Ons kan nie ons eie koppe volg en doen wat ons wil nie. Ons moet leer wat dit vra om dienaars te wees wat weet dat Hy groot en ons klein is, en dat Hy eenvoudig álles kan. Na die mate wat ons leer om in die vrees van die Here op Hom te wag tot ons Sy hand sien beweeg, sal ons geloof in Hom versterk word en ons getuienis sal ons en ander om ons bemoedig om meer, dieper, in steeds groter erns, ons vertroue in Hom te plaas – binne die begrip van die VREES van die HERE.
Vader!! Seën ons asseblief met U Gees van die vrees van die Here!
Esté Geldenhuys